Tuesday, April 29, 2014

Leser gee terugvoering oor Arwantië 2953

Soos julle seker weet is die Afrikaanse Wetenskapfiksie en Fantasie genres baie klein. 'n Tydjie gelede het www.afrifiksie.com alles in die stryd begin werp om die genres vir Afrikaans te red. Ek is deel van hierdie groep skrywers, en Thompson Uitgewers (deel van Afrifiksie) het my eerste boek uitgegee.
Omdat ons omtrent geen bemarking het nie, weet omtrent niemand van ons boeke nie. Dit is waarom dit so belangrik is dat ons mense aan die praat kry oor hierdie genres. Vir 'n skrywer is dit maar 'n gemengde ervaring: Jy skryf in die genre wat jy van hou, maar jy kry min terugvoering (en geen vergoeding!).
Laas week het ek 'n artikel geskryf oor die belangrikheid van terugvoering en hoe dit skrywers aan die skryf kan hou al maak hulle geen geld nie. Soms is die enigste ding wat tussen die bestaan van 'n tweede boek en tou-opgooi staan die aanmoediging wat mens van 'n leser kry.
Hierdie week het ek 'n baie bemoedigende boodskap van 'n nuwe leser ontvang. Ek plaas dit hier ingeval jy self nog wik of weeg of jy my boek Arwantië 2953 (harde kopie of eboek)  moet aanskaf.

Ek het hierdie storie baie geniet. Dit was 'n slag weer lekker om in my eie taal 'n wetenskap fiksie boek te lees.
Die storie was nie voorspelbaar nie en daar was 'n hele klomp plot draaie wat ek nie verwag het nie.
Ek het van die vinnige pas van die storie gehou. Die karakters was geloofwaardig en ek het veral gehou van die wrede
Heer Mikeus en die hele plot met die Here Ses. Deurgaans is daar ook nuwe karakters voorgestel deur die loop van die verhaal sonder dat hulle te veel geraak het en my na my "notas" laat soek het omdat ek nie meer kon onthou wie elkeen was nie.

Die tikkie romanse wat ingebring is tussen twee van die karakters (Karien en Kobus) is ook net reg hanteer en het nie die storie oorheers nie. Ek hou nie van liefdes verhale nie, maar voel tog dat hierdie tikkie romanse nodig was vir hierdie storie, en dat dit die storie bevorder het.

As dit kom by die skop, skiet en ...... gedeelte het die skrywer nie teleur gestel nie, daar was oorgenoeg aksie.
Ruimte gevegte, infanterie wat mekaar aanpak, die hoofkarakter (Kobus) wat tydens sy "dier" fase almal pap slaan, die Impi's met hulle "groen" spiere....

Ek is nie 'n kenner op die gebied van taalgebruik nie, maar ek het van die taalgebruik in die storie gehou.
Die taal was nie te "hoog" nie en het 'n lekker klomp alledaagse sê-goed ingesluit.  Die skrywer was nie bang om 'n paar
"krag" woorde te gebruik as dit nodig was nie, en het ook nie geskroom om grafies te verduidelik as die hare en bloed moes waai nie.

Die storie was ook nie te lank of te kort nie, 289 bladsye, net genoeg.

In kort: mooi so man, dankie vir so 'n bietjie Afrikaanse wetenskapfiksie genot. Hou aan met skryf!!

Hendrik Mostert


Dankie Hendrik! Jy maak my week!

As jy van my kortverhale verniet wil lees, gaan loer hier en hier
Ek is tans besig met die redigering van 'n nuwe boek.

Groete
Eben
 

Sunday, April 20, 2014

My nuwe kortverhaal... en ek is baie lief vir hierdie een.

Gaan loer op http://afrifiksie.com/die-adam-van-proxan-delta-eben-van-renen/

Die Adam van Proxan Delta

Hy's lank, maar hy sal nie teleurstel nie.

Groete!
Eben

Ons wil almal drukkies kry. Skrywers is ook mense... soort van.

UITEINDELIK is my studies voltooid. Wat 'n ondervinding! Vier jaar van swoeg, (ploeg?) en nou moet dit begin vrugte afwerp.

UITEINDELIK kan ek weer Afrikaans begin lees. En ek lees laat dit bars. Vyf boeke op 'n slag. Dis die enigste manier hoe ek kan lees. As ek net een boek lees voel ek altyd onrustig oor die ander boeke wat ek nie lees nie. Dus lees ek sommer almal saam.

UITEINDELIK kan ek weer in Afrikaans begin skryf. Ja, dit beteken dat ek binnekort die buitenste ruim en parallelle wêrelde gaan verken. Arwantië is natuurlik 'n gunsteling bestemming vir my verbeeldingsvlugte, maar ander plekke roep ook na my.

Daar is egter net een ding wat my bietjie terneergedruk maak. Dis goed en wel om hierdie stories te skryf, maar hoekom sou ek die moeite doen om alles te laat publiseer as dit nie bedoel was om gelees te word deur ander mense ook nie? En alhoewel ek sien dat mense my stories lees, selfs die boeke koop (dankie!), is daar iets wat skort.

TERUGVOERING!

Jup, dis jy, liewe leser. Ek en die ander Afrikaanse skrywers (behalwe Deon Meyer, want hy is so beroemd soos baie Amerikaanse skrywers) smag na 'n bietjie liefde van ons lesers. 'n Drukkie, 'n klop op die skouer, of miskien 'n soentjie as jy 'n mooi meisie is (ek moet onthou om daardie laaste een uit te vee. Eben, onthou om hier te EDIT boet! Netnou lees vroulief dit en).

Sien, alhoewel ons nie skryf met die doel om deur ander gewaardeer te word nie, maak dit steeds 'n reuse verskil as 'n leser ons net ietsie sê oor hulle lees-ondervinding. Om 'n Afrikaanse skrywer te wees is gewoonlik 'n alleenpad, maar om 'n Afrikaanse wetenskapfiksie of fantasie skrywer te wees is soos om alleen, melaats en geblindoek te loop in die middel van 'n woestyn. Ons kry dikwels geen terugvoering nie.

Stephen King, aan die anderkant, gaap seker gedurig as hy lusteloos deur sy tien duisend eposse per dag loer.

Al ooit gewonder wat jy vir die Taal kan doen? Miskien dink jy: Ek kan nie skryf nie, ek behoort nie aan die FAK of ATKV nie, en my eie Afrikaans is bietjie geMengels... tog wil ek Afrikaans help ondersteun.
Hier is wat die 'gewone' man of vrou op die straat kan doen:

Ondersteun die mense wat elke dag probeer om die taal uit te bou. As jy 'n kortverhaal of boek lees en jy hou daarvan, neem twee minute en epos die skrywer - daar is 'n blêrrie goeie kans jy is die enigste persoon wat dit gaan doen. Voor jy-weet-wat kry jy nog 'n groter vonkpos terug van 'n skrywer wat so dankbaar is dat sy of haar stories nie net in 'n swart gat in die ruimte verdwyn het nie!

Dit is, as mens dink, een van die voordele van lidmaatskap tot een van die kleiner tale: Toeganklikheid. Ek het al vir Hermann Giliomee gekontak om hom te bedank vir Die Afrikaners. Hermann Giliomee, ons voorste historikus, skrywer van die grootste geskiedenis boek in Afrikaans. Hy't later vir my en my vrou vir 'n ete by 'n restourant getrakteer.

Dink jy so iets sou in Engels gebeur het?

Nottadêm!

In Engels is die beste skrywers soos engele wat daar hoog bo in die wolke, buite bereik, rond dans en lag. In Afrikaans loop die skrywers kaalvoet in die stof, langs jou.

En dit is mooi.

Nou gaan gee 'n Afrikaanse skrywer 'n drukkie.

Eben



Wednesday, January 22, 2014

Ek sal binnekort terug wees!

Ek weet ek was baie stil gewees! Ek is nou in die laaste rondte van my magistergraad. Oor so paar maande sal ek weer begin skryf.

Belowe

Eben

Friday, October 12, 2012

Sketse

Ek gaan my sketse en skryfwerk apart hou.
My sketse kan jy vind by

www.ebensketse.blogspot.ca

EVR

Saturday, September 29, 2012

Skud die roes af...

Lank gelede, in 'n galaksie vêr, vêr hiervandaan, het ek baie gereeld geteken. Veral op skool het ek wetenskapfiksie en fantasie tekening elke dag geteken. Wel, ek het besluit om my tekengoed weer uit te haal en te begin oefen.

Hier is my eerste pogings na meer as 15 jaar! Ek hoop my illustreerder-boetie (Carel van Renen) sien nie hierdie tekeninge nie... Hy sal homself dood lag, en dan het ek net vir Loedi as broer oor.

Bronto Ligte Passasierskip - Uit my boek "Arwantië 2953"

Konsep vir 'n Swaargepantserde Eksoskelet, hier gedra deur 'n Stormtroep. Linkerarm het 'n R-1.

Paar ekstra konsepte. Sommer net speel met vorm ens.

Wel, mens moet iewers begin. Ek dink ek sal kyk of ek so bietjie kan werk aan ten minste een prent op 'n dag.

Eben


Friday, September 28, 2012

LitNet onderhoud

http://www.litnet.co.za/Article/lank-lewe-die-arwantyne-elzette-steenkamp-gesels-met-eben-van-renen-oor-afrikaanse-wf

Groot dankie aan Elzette Steenkamp vir haar ondersteuning by LitNet vir Afrikaanse wetenskapfiksie.





article